Yolandi is die beplanner. Sy het ’n lys en ’n spreadsheet vir alles, en as daar admin is wat gedoen moet word, is dit reeds klaar. Nicol is die prater, die soort ou wat binne vyf minute met enigiemand, enige plek, vriende kan maak. Op papier is ons totale teenoorgesteldes, maar saam het ons die perfekte balans gevind: sy bring die struktuur, hy bring die rustigheid.
Nicol het ’n paar groot liefdes in sy lewe. Rugby is hoog op die lys, maar Yolandi sal altyd eerste kom (selfs wanneer die Bokke speel). Yolandi s’n is makliker: Nicol, en goeie kos. Dan is daar Kobe en Ellie, ons twee hondjies, wat van Nicol ’n volwaardige honde-pa gemaak het. Hulle draai Nicol om hulle pootjies, en hy sou dit nie anders wou hê nie.
Ons kan nie wag om saam met julle te vier nie. Sien julle op die dansvloer!